PITKOS VIR DAARDIE CHRISTEN WAT BYBELWAARHEID WIL GLO!
Is talespraak Bybels?
Is talespraak iets van die verlede?
Is talespraak die toerus met tale vanuit die nasies?
Is die Nuwe Testament nogsteeds van krag?
Daar is `n neiging by die gemiddelde Christen om òf beïndruk òf bedreig te voel sodra `n teoloog stellings oor die Bybel maak en veral as kritiek uitgedeel word. Wat ons egter behoort te besef is dat daar van meet af `n aanslag teen apostoliese waarheid was, naamlik dit wat tot ons beskikking is in die Nuwe Testament. Ek kan hier `n verslag skryf oor hierdie aanslag maar kom ons bepaal ons by kerngedagtes en veral grondwaarheid wat maar gedurigdeur onder die vergrootglas geplaas sal word.
Ek het gedurende die afgelope paar dae onder andere `n artikel in my posbus ontvang wat die ou geykte Rooms-Katolieke/Protestantse sienswyse handhaaf, naamlik dat talespraak eintlik maar net in die Bovertrek plaasgevind het (Hand. 2), of dan in die tyd van die apostels – laasgenoemde twee standpunte word deur verskillende Protestantse kerke gehandhaaf. Ek het alreeds hierdie saak, naamlik die agtergrondgeskiedenis en tendense vanuit die verlede, in my boekreeks wat op die webwerf aangebied word behandel. Ek is ook besig om puntsgewys op sekere stellings te antwoord en hoop om dan spoedig verder te gaan as dit wat in hierdie aflewering vermeld word. Die ontvangs van die Heilige Gees is juis dit waarvoor Jesus gely en gesterwe het! (Hand. 2.33). Ongelukkig moet ek weens `n drukprogram dit so `n klein bietjie agterweë hou, maar wat ek graag sal wil noem, is dat talespraak, soos die doop, beslis nie net vir die apostels van Jesus bedoel was nie. En die idee dat talespraak die dopeling in staat gestel het om die evangelie te kon verkondig in die tale wat in die tyd van die apostels en natuurlik ook die post-apostoliese era gepraat was, trek beslis nie water nie. Sou dit wel die geval gewees het, kan mens net wonder waarom hierdie bonatuurlike “gawe” dan skielik saam met die apostels van Jesus en hulle direkte volgelinge uitgefaseer het.
Om dan voor te gee dat toerus/bekleding met talespraak uit die hoogte die vroegste Christene sou gehelp het om oor taalgrense heen te kommunikeer, is belaglik. Om verder te wil voorgee dat “Krag uit die Hoogte” niks met talespraak te make het nie, is om onkunde te verkondig want om waaragtig met die Gees van God vervuld te word, is beslis `n Krag van God wat nie deur die mens of deur menslike emosie geïnduseer kan word nie (Hand. 1.8). Daar is net eenvoudig genoegsame bewys dat hierdie Nuwe Verbond-belofte so uitermatig kragtig was dat selfs Simon die Towenaar dit begeer het! (Hand. 8).
Ja, daar is wel nabootsings van goddellike talespraak, net soos wat daar ook nabootsing van profesie bestaan – pseudoprofesie of valse profesie. En ons kan beslis die lys langer maak en dan ook die lyn deurtrek na uitleg/leringe van die Skrifte omrede ons inderdaad oorgelewerde kennis wat uit God is het teenoor kennis vanuit die mensdom : dit is kennis wat mens deur boeke en selfs akademiese onderrig ontvang maar wat nie altyd Skrifverantwoordbaar is nie. Neem Paulus as voorbeeld: Hy het gedink sy boodskap is die totale uitdrukking van God se volmaakte wil, maar selfs hy moes dit wat hy geleer het en uit sy tradisie ontvang het, prysgee terwille van goddellike kennis deur die Heilige Gees gedrewe. Jesus se lyde, sterwe en opstanding het beslis `n totaal nuwe boodskap aan `n verloregaande wêreld ingelui!
Dit sou dan, soos wat dit so dikwels aangevoer word en selfs komend van “grootdopers” wat nie in talespraak glo nie, daardie tipe wat uitgegaan het om te evangeliseer, dit is buite die grense van Jerusalem en Palestina, in staat gestel het om skielik en wonder-bo-wonder vlot Grieks, Aramees, Kopties, Siries, Persies, ensovoorts, te kon praat! Ewe skielik sou hulle dan die eweknieë kon wees van daardie taalkundiges wat baie hard moes swoeg en sweet net om, soos Sint Irenaeus, byvoorbeeld Spaans te kon praat alvorens hulle kon uitgaan om onder die nasies te gaan evangeliseer. Hierdie tipe naïewe benadering is beslis wensdenkery want daar was beslis Jode wat onder die apostels beland het – dit is op Pinksterdag – en wie dan bekend sou wees met evangelisasie. Evangelisasie het dan nie by die Christendom `n aanvang geneem nie maar die Essene en die Fariseërs het hulle juis toegelê op bekering van nie-Jode (proseliete). Seevaart was in antieke Israel beoefen en hierdie tipe handel het beslis `n behoefte geskep aan meertaligheid.
Mens kan jouself maar net afvra, logies gesproke, hoe Cornelius, `n Italianer, byvoorbeeld met Petrus, `n Jood van Galiléa, gekommunikeer het. Wie was wat magtig? Ons kan, en weereens logies gesproke, aanvaar dat Cornelius benewens Latyn, Grieks sou kon praat het of dalk Grieks sowel as Aramees wat Petrus na bewering dan, soos Jesus ook sou kon gepraat het. Maar ons behoort byvoorbeeld nie net te aanvaar dat Petrus glad nie vertroud was met Grieks nie want Galiléa was juis `n kosmopolitiese landstreek. Die kwessie is wel: hoe goed sou byvoorbeeld hierdie twee betrokkenes Grieks kon gepraat het, of dan die ander persoon se moedertaal? Dit word al lankal aanvaar dat die apostels nie so agterlik was as wat soms nogsteeds aangevoer word nie. Grieks was juis `n taal wat deur baie, en veral diegene wat afgerond wou wees, as `n bate beskou was, net soos wat Engels vandag nie meer as `n “lastige” tweede taal beskou kan word vir `n Afrikaanssprekende nie.
Die punt wat dan hier gemaak word, is dat daardie dissipels wat ná Stefanus se steniging uitwaarts begin beweeg het, naamlik om buite die grense van Jerusalem en Palestina te gaan evangeliseer, dit alleerstens onder die Jode gedoen het. Waarom? Nie omdat die Jode dan Aramees, Grieks en Hebreeus magtig sou wees nie – almal sou beslis ook nie in dieselfde mate hierdie tale bemeester het nie net soos wat dit vandag ook maar gaan - maar omrede Christus ten eerste vir die Jode gekom het, naamlik die verlore skape van Israel. En hierdie “verlore” skape was beslis onder die nasies versprei – die diaspora Jode. Hulle sou ook vertroud gewees het met die Wet van Moses, die Messiaanse verwagting, en met die jaarlikse Yom Kippur en die verpligte opkoms na Jerusalem toe tydens die Pase, sou baie van hulle ook geweet het van die kruisiging van Jesus. Al het net soveel Jode Christus ook verwerp.
Jakobus verwys byvoorbeeld in Lukas se Handelinge-geskrif na “duisende” Jode wat op die punt gestaan het om Christus aan te neem. Nou, ek wil nie verder hierop ingaan nie, want dan sal ek noodwendig wyer moet gaan as die apostoliese gemeentes per se want Joodse afvallige sektes was volop in die eerste eeu (C.E.) en wat ons natuurlik weer by die Essene, die Ebioniete en die Joodse gnostiese sektes uitbring. Feit is, die evangelie was aanvanklik onder die Jodendom versprei en die tale wat onder hierdie sektor in swang was, sou dan toeganklik gewees het vir sekere van die dissipels en wie dan, logies gesproke, in staat sou gewees het om spesifieke/besondere faksies onder hierdie sektor te kon betrek. Ons kan maar net dink aan die Nuwe Testamentiese briewe en hulle impak wat nie gemaak sou kon gewees het sonder die baie belangrike deurslaggewende Griekse taal nie.
Die indruk wat dan geskep word dat die vroegste Christelike gemeentes die nasies se tale gepraat het, dit is so op die aard van `n gemeentelike oefenlopie – naamlik waar Paulus spesifiek `n opdrag gee, “Verhinder nie om in tale te spreek nie” (1 Kor. 14.39) - is niks anders nie as `n aanname en `n interpretasie wat beslis verwerp kan word. Dit is met ander woorde sinloos en hierdie tipe verklaring word beslis aangewend om `n kerklike standpunt te bevorder. Daar word dan ook baie gou aangevoer dat die “talesprekers” nie wil hoor nie! Met ander woorde hulle wil nie na hierdie tipe belaglike verklaring luister nie. Maar wie wil, per slot van sake, notisie neem van hierdie tipe verklaring wat ek nie eens aan `n intelligente kleuter sal oordra nie, wat nog te sê aan volwasse Christene wat tog alte goed weet dat die Nuwe Testament geskrywe was vir die hele Kerk van Jesus, met ander woorde van A-Z en wat dan as fondasie kan en sal dien vanaf die eerstelinge (die eerste bekeerdes en volgelinge van Jesus) tot by die wederkoms van Jesus.
Sodra ons die Bybel, soos onder andere die wegbereider, naamlik die Rooms-Katolieke Kerkvaders, verdeel in “daardie” tyd en latere eras, maak ons Jesus niks anders nie as `n historiese Jesus. Ons kan dan net sowel die hele Bybel so histories maak dat ons die doop, die nagmaal, kortom die gemeentelike byeenkoms, ook iets van die verlede maak. Waarom die diensorde rondom die apostoliese belydenisse sentreer, maar die wat saamkom in die Naam van die Here (!) weier om die uiters belangrike doping met die Heilige Gees te aanvaar in plaas daarvan om dit totaal-en-al, en veral op gemeentelike vlak, uit te faseer - en wat ook net op een wyse kan plaasvind as ons dit enigsins Bybels wil maak, naamlik deur die spreking in “vreemde” tale (v. 1 Kor. 14.2).
NOTA : Ek vra verskoning want die bewoording is soos hierbo gestel.
Ek wil ook hier noem dat “ander tale” eerder beskou behoort te word as die tale vanuit die nasies, met ander woorde tale wat ons kan aanleer, teenoor “vreemde” tale wat deur God se Gees ingegee word. Moontlik sal dit die verwarring wat bestaan grootliks uitskakel. Waar Paulus ook verklaar dat “nie almal praat in tale nie” is dit tog baie duidelik dat hy talespraak as gawe bedoel en wat nie een en elk wat gedoop word met die Heilige Gees dan ontvang nie. Die fout wat sedert die koms van die Chrismatiese herlewing gemaak was, was grootliks omrede elkeen noodwendig in tale moes spreek! Dit is ná hulle doping met die Gees van God. En talespraak kan ook nie aangeleer word nie en dit kan ook nie aan die kandidaat voorgesê word nie want dit is `n onding wat uitgeroei behoort te word (een wat kom vir handoplegging vir die doping met die Heilige Gees – v. Hand. 19). Satan weet of jy eg met die Gees van God gedoop is of nie en omrede satan altyd in konflik met God se saak sal gaan, behoort ons onsself des te meer paraat te maak AS ons onsself enigsins dissipels van Jesus wil noem! Kyk net hoe het Paulus met die valse seuns van Skefa gehandel (Hand. 19).
Ongelukkig word die Pauliniese lering oor talespraak totaal-en-al uit verband geruk (1 Kor. 14) en glo my, kennis van die grondteks, naamlik Grieks of dan in watter Nuwe Testamentiese vertaling ookal geskrywe, kan nie dit wat Paulus se boodskap onderlê, naamlik om talespraak funksioneel aan te wend, ooit tot niet maak nie. Feit is die apostel het die Korinthiërs wat net op talespraak gefokus het, geleer hoe om dit tot opbou van die gemeente aan te wend. Hy het dit baie duidelik op gemeentelike vlak toegelaat, naamlik die onverstaanbare glossalaia (taal/dialek) omrede God satan net op sy vlak, naamlik in die geestesfeer kan en sal ontmoet! Gevolglik Paulus se opdrag in 1 Kor. 14.39 : “Verhinder nie om in tale te spreek nie” en wat dan niks met tale van mense te make het nie omrede ons met Krag van God te make het sodra dit by ware Geesvervulling kom. Ons kan maar net weer kyk na 1 Kor. 14.4, “Hy wat in `n taal spreek, stig homself”, om dit wel toepaslik te maak op talespraak in die Pentekostalistiese tradisie - God het `n herlewingsbeweging wat oor kerkgrense gegaan het veral in 1901 en 1904 gestuur wat weer die eerste eeuse talespraak op gemeentelike vlak herstel het maar dit was dan nie asof dit nie alreeds in die tyd van Calvyn ook gemanifesteer het onder sekere Anabaptiste nie – wees versigtig om nie alles wat Calvyn kwytgeraak het as Waarheid te sluk nie! Alle Anabaptiste was nie duiwels of spiritiste nie! Verwys ook na 1 Kor. 2.13-15 waar Paulus die natuurlike mens teenoor die geestelike mens kontrasteer.
Juis omdat die Korinthiërs, soos dit voorkom, hoofsaaklik op talespraak gefokus het, het Paulus hulle geleer om hulle veral toe te lê om die tale wat hulle spreek, uit te kan lê en dit is niks anders nie as om te profeteer - onder die salwing van die Heilige Gees want om hierdie rede maan Paulus terselfdertyd dat hulle moet BID sodat hulle die talespraak kan uitlê. Kyk gerus ook na 1 Kor. 14.18 en 19. Dit is dan ook `n gawe wat nie deur menslike wysheid of motivering in aksie gebring kan word nie.
Dit behoort tog baie duidelik te wees dat hierdie tale wat Paulus besit het, niks te make gehad het met Grieks, Aramees, Hebreeus, Latyn, Kopties, ensovoorts nie. Sou ons dit so interpreteer, met ander woorde dat Paulus bedoel het dat hy weltertale was, sou dit voorkom asof almal op gemeentelike vlak sommer so deurmekaar Grieks, Latyn, Aramees, ensovoorts, gepraat het. Dit sou voorwaar `n nagmerrie gewees het en met watter doel sou die Christene dan bymekaar gekom het? Sou hulle dan bymekaar gekom het om te spog met hulle besondere taalvermoë, of het die apostel inderdaad bedoel dat hulle nie net op die vreemde (engele) tale moes fokus as hulle bymekaar gekom het nie?
Daar is niks so sinloos as om selfs goddelike talespraak te oorspeel nie! Ek praat in vreemde tale omrede God talespraak ook as gawe vir my gegee het, maar ek weet alte goed dat ek in die gemeente nie kan aanhou met talespraak as daar nie ook `n uitleg kom nie. En as daar nie `n uitleg is nie (deur die Gees!) mag die uitleg nie geforseer word deur persoonlike ambisie en motivering nie. Dit is hier, weereens, waar 1 Kor. 2.13-15 ter sprake kom. En dit sal enigiemand wat met die Heilige Gees gedoop is, saam met my verklaar. Daar het ONGELUKKIG baie wanpraktyke op hierdie gebied plaasgevind maar wat sal dit ons help om op die negatiewe te wys? Feit is: die Pauliniese en apostoliese talespraak is “vreemde” tale of dan engeletale : 1 Kor. 14.2: “Want hy wat in `n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God; want niemand verstaan dit nie, maar deur die Gees spreek hy verborgenhede”.
Die vermeteles wat graag leraars wil wees, noem talespraak sommer “`n gebrabbel” in plaas daarvan om te strewe na goddellike Geesvervulling sodat hulle inderdaad kan leer! Paulus het die wat nie `n duidelike klank gegee het nie – dit is om tale te spreek wat beslis as `n brabbeltaal beskou kan word – geleer! Hy het hulle natuurlik op die geestelike pad gewys wat die talespraak wesentlik sal raak, naamlik gebed en vaste was juis die onderbou van die vroegste gemeentes van Jesus Christus. Daar is jogi’s wat tale praat en selfs sangomas. God sal hierdie nabootsing bestraf! Ek kan baie hierop uitbrei maar ek sal dit daar laat. Ons kan egter nie die kind en die badwater uitgooi net omdat `n sataniese aanslag ook kan manifesteer nie. God roep ons om soos Petrus teen Simon die Towenaar op te tree deur die egte werking van Sy Gees (Hand. 8). Daar is dan soiets soos valse (demoniese) talespraak maar `n Geesvervulde en iemand wat naby God is – vir Hom lewe in gehoorsaamheid en getrouheid – sal dit onmiddellik kan onderskei. En het God ons nie geroep om Hom in Gees en Waarheid te soek sodat ons waaragtig met Sy Gees vervuld kan word nie? Wat het die tafel van die Here met die tafel van satan te make?
Die feit van die saak is dat, sodra ons met die geestesrealm te make het, MOET ons God in Gees en Waarheid soek! Net soos wat misleidende geeste oor die wêreld uitgegaan het om byvoorbeeld verkeerde insigte oor die Naam van Jesus, die doop en die nagmaal te vestig, so sal misleidende geeste die Kerk van Jesus Christus binnedring TENSY ons die Here in Waarheid dien! Dit is niks anders nie as New Age-manifestasie want soms word die egte en die onegte bymekaar gebring (dit is “blurring” en dit is demonies). Om hierdie rede salf God, benewens geleerdheid vanuit die wêreld, ook spesiale vate wat Sy Waarheid weer en weer onder die aandag van Sy volgelinge kan bring (dit is die ware Kerk van Jesus Christus tot vandag toe).
Die ware Kerk van Jesus sal gevolglik nie dit wat die apostels ontvang het, net tot daardie tyd beperk nie want dit het die afvallige Kerk inderdaad gedoen en gevolglik sit ons tot vandag toe met `n dooie vormgodsdiens wat net uit woorde bestaan. Baie het ook graag `n eier te lê oor die “Antichris” en die “verskriklike” 666 nommer wat op elke hand ingeplant sal word, maar waarom dink ons nie wie die boodskap van Jesus so kragteloos gemaak het en so kort ná die verdwyning van Jesus nie? (v. 2 Thes. 2 wat net te veel op vandag toepasbaar gemaak word). Met die gevolg dat die Leuen nog net so sterk in die Liggaam van Jesus ingebed is as kort na die vertrek van Paulus en sy toespraak by die Ouderlingsraad (Hand. 20.17+). En ASSEBLIEF! Hierdie betrokke gebeurtenis het sommer kort na Paulus se dood gerealiseer toe wrede wolwe op die Liggaam van Jesus met hulle valse leringe en Skrifverklaring toegesak het. Daarom: laat ons besin oor die “Eindtydperk” wat soms so uit verband geruk word so asof ons besig is om die Griekse mitologie `n Christelike aanslag te wil gee!
Paulus gee baie goeie raad aan die ware volgelinge van Jesus met betrekking tot die Krag-verloëners: “… mense wat `n gedaante van godsaligheid het (hulle evangelie bestaan net uit woorde) maar die Krag daarvan verloën het. KEER JOU OOK VAN HIERDIE MENSE AF!” (2 Tim. 3.5). As jy jouself nog enigsins wil red, wend jouself tot die Bybel en luister na God! Hoe kan iemand wat Bybelwaarheid afwys, ooit gereken word as `n ware gesalfde van God? Paulus het ook gedink dat hy die antwoord op die mensdom se vrae was, maar toe Jesus hom van sy kameel laat tuimel het op Damaskusweg, het hy `n totaal ander boodskap uitgedra tot aan die einde van sy pad!
Ester Blomerus
4 Augustus 2010
Net die volgende gedagtes ook :
1. Saam met Paulus verklaar ek : “Verhinder nie om in tale te spreek nie” (1 Kor. 14.39). Ek dank God vir die wonderlike werking van die Heilige Gees deur onder andere (!) die spreking in vreemde tale! Dat daar baie wanpraktyke plaasgevind het, is waar! Maar kom ons strewe nou na die waaragtige invulling met God se Gees. Kom ons stel onsself tot beskikking van Jesus en kom ons draai om (ons bekeer ons van ons ou weë en insigte) en ons wend ons tot die onvervalste melk, naamlik die rein Woord van God wat uit die mond van twee of drie getuies vas sal staan (Mat. 18.16).
2. Ons gaan nie in die dag van alle dae, by die wederkoms van Jesus, kan staatmaak op iemand wat ons geleer het asof so een ons hand in die Oordeelsdag sal vashou nie. Ons moet onsself tot die Here wend in volle oorgawe aan Hom sodat Hy ons verstand kan verlig om die Waaragtige te ken want elkeen wat bely dat Jesus Christus die Seun van God is, God bly in hom, en hy in God (1 Joh. 4.15).
3. Tradisionele belydenisse word dikwels Skrifverantwoordbaar gemaak/verklaar omrede dit steun op dit wat ná die verdwyning van die apostels as Waarheid verkondig was. Ons maak op dieselfde wyse kennis met goddellike genesing – iets wat dikwels afgekraak word, soos talespraak, omrede die tradisionele Kerk in die algemeen nie wil hou by die voorskrifte van God nie - daar kan nie fout wees met Jesus nie, die fout lê by die mens! - teenoor geloofsgenesing wat nie deur die bloed en die Naam van Jesus gaan nie.
4. Jesus het verklaar dat ons duiwels moet uitdryf! (Mar. 16). Wie op dees aarde doen dit nog sodat daar waaragtige resultate is? En, weereens, nie omdat dit verouderd is nie, maar omdat ons nie aan God se vereistes voldoen nie. Baie leraars is so aards dat hulle nie eens besef dat daar `n ernstige behoefte hieraan is nie en dan nie net aan berading nie. Waarom? Dit lê weereens by ons benadering tot ons wandel met Christus. Ons dien die Here soos wat daar aan ons voorgeskrywe word in plaas daarvan om God se raad en wil te vra en om Hom in Gees en Waarheid te aanbid (Joh. 4.24). Ons vas nie meer nie, ons bid ook nie soos wat die apostels van Jesus gebid en afgesonder het nie, ons leef nie meer vir die Here soos wat die wat hierdie werke in die verlede gehad het, die voorbeeld aan ons gestel het nie, en baie is ook nie bereid om die leuen af te lê nie (1 Joh. 4). En om hierdie rede is die Kerk van Jesus so dood! Ten spyte van al die geluide wat dit maak.
5. Om net te hamer op die gesproke woord vanaf die kansel, is net so goed as om jouself te wil bemark. Die Woord sonder Heilige Gees Krag gebring, lei net tot `n verskraalde vormgodsdiens en ons weet dat ons `n eeuelange geskiedenis van `n dooie Kerk en kerklike sisteem agter ons het! En wat was die uitwerking op opregte siele? Wie het hulle geestelik vermoor? As ons ten minste eerlik teenoor God en onsself wil wees sal ons met hierdie stelling saamstem. Hoeveel smag nie na genesing nie maar hulle kan dit nie kry nie omrede daar nie meer geglo word in Jesus se Heilige Gees-gawes wat Hy met so `n duur prys vir ons op Golgotha bewerk het nie? Uit ondervinding weet ekself dat die beste spesialiste soms faal in hulle diagnoses en hulle kan nie altyd die probleem raakvat nie.
6. Dis waarlikwaar so. Baie smag gevolglik na genesing maar hulle kry dit nie. Chemoterapie is soms net die vuis wat die kranke gouer na sy/haar dood toe neem! Operasies word uitgevoer wat onnodig was! Wie kan hiermee saamstem? Hoe dikwels kry ons “hopelose” gevalle waar die mediese wetenskap NIKS kan doen vir `n lydende persoon nie en behoort ons wat sê ons behoort aan Christus, ons dan nie des te meer by Christus wat die oplossing vir ons in Sy Woord vasgelê het, skaar nie? Baie het ook nie geld om derduisende rande/dollars aan mediese onkoste te bestee nie. Wie het alles? Om hierdie rede behoort ons saam te bid dat die Here die beloofde Heilige Gees beweging sal stuur. God se Liggaam het ook `n deeglike skoonmaakproses bitter nodig want waar die gawes van die Heilige Gees beoefen word, moet heiligmaking en gehoorsaamheid aan die Woord met mag en mening nagestrewe word!
7. Daar is per slot van sake NEGE GEESGAWES en nie net talespraak nie (1 Kor. 12). Maar as ons talespraak negeer, sal die ander gawes ook nie opereer nie want talespraak is `n kragtige gawe wat ek uit ondervinding weet die skanse van satan laat val – ook die pad op gemeentelike vlak oopmaak vir die ander gawes, soos profesie! Verwys weer na 1 Kor. 14.39: “Verhinder nie om in tale te spreek nie!” (Wie sou iemand aangemoedig het om in Grieks te praat as net Latyn verstaanbaar sou wees? Maak dit sin? En die gemeente was tog nie `n TEFL teaching class nie! Die apostel Paulus bedoel dan baie duidelik “vreemde”, naamlik onverstaanbare, verborge tale wat net deur die Gees van God uitgelê sal kan word teenoor “andere tale” uit die mensdom. Waarom is daar ook op hierdie gebied vergrype en teleurstelling? Omrede die Kerk van Jesus, weereens, nie die Bybelse pad volg nie!
8. Ons behoort dan baie goed op te let dat die wat so heftig teen talespraak uitgaan, geen geestelike krag het nie – behalwe miskien meditasie en meditasie hoort nie by `n kind van God nie. Praat maar eerder van oordenking of mymering of nabetragting want “meditasie” dra net te veel die konnotasie van gedagtekrag wat niks anders is as Oosterse praktyk nie. Terloops, ek gee julle hierdie getuienis: Ek het op `n stadium van my bediening te make gekry met `n spiritis wat swartkunste beoefen, wat siektes op mense lê en wat bitter pyn en lyding veroorsaak, selfs die dood. God het my, nadat ek Hom gesmeek het om my te hulp te kom met betrekking tot `n sekere geval waarmee ek te doene gekry het, in `n visioen ontmoet en my gewys om in tale te spreek. Ek het toe gesien hoe breek die goddellike talespraak die meditasielyne van hierdie goddelose man wat vir my in die kaliber van Simon die Towenaar was (Hand. 8). En ons het keer op keer oorwinning in Jesus Naam gekry!
Ek het ook vir `n vrou gebid wat gebind was deur die okkultisme. Bloedkanker was gediagnoseer.
Die Here het my een oggend toe ek haar besoek het en waar sy van die verskriklike pyn op die bank in haar sitkamer gesit en huil het, in die Gees van God getrek en ek het `n kragtige taal deurgeslaan. Dit het oor my lippe gevloei en terwyl ek tale gepraat het, het die Here my `n visioen gegee van hoe daar teen haar gemediteer word deur `n Oosterling. Ek kon sy wit kleed, die pers steen op sy hoofbedekking en die vuur waarby hy gesit het, in detail beskryf. Die gloed van die vuur was baie erg en ek kon dit letterlik in die visioen teen my lyf voel. Ek het `n hoop kiekies gesien wat hy by die vuur gebruik het en toe die talespraak so vloei oor my lippe, het ek gesien hoe die vuur uitgeblus word. Ek kon toe die altaar (soos ek dit wil noem) sien, die uitgebrande hout in die vorm van `n boeddistiese kruis. God het toe bevestig dat Hy die mag van satan uitblus. God openbaar natuurlik altyd wie dit doen en wie vir hierdie tipe “diens” betaal. Dit is in volle swang oor die wêreld en dit is tyd dat die Kerk van Jesus bemagtig moet word met die Geesgawes en met `n godvrugtige lewenswandel. Die apostels van Jesus het ook aanhoudende gebede opgestuur en God se Gees was wesentlik in hulle midde. Paulus verklaar dat Jesus gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde is (Heb. 13.8).
9. Kan mens iets wat jy ervaar het ooit negeer? Ek het op `n stadium iets merkwaardigs gelees van `n Moslem Imam wat Jesus aanhoudend afgekraak het tydens een van sy aanbiedings. Sy gehoor was verslae van gees want hy was vlytig in spraak en in redenasie. Toe hy weer `n vraag vra oor Jesus, het `n seuntjie van ongeveer vyf jaar skielik vorentoe gestap. Hy was besig om `n lemoen te eet en het die leraar gekonfronteer met: “How can you know what this orange tastes like unless you have tasted it?” Hoor ons nie inderdaad die waarheid uit die mond van suigelinge en kinders nie? En moet ons nie juis kinderlik word alvorens God ons met Sy Geeskrag uit die Hoogte kan aandoen sodat Hy ons optimaal in Sy diens kan gebruik nie?